FB_IMG_1453908311624

Wie onhou nog die TV Boereorkes Kompetisies van die 1980’s en 1990’s?

Boeremusiek het nie in 1930 opgehou nie soos baie kenners wil beweer nie, maar het in werklikheid toe eers begin blom! Met die koms van elektrisiteit in hierdie periode het die tegnologie met reuse spronge vooruit gegaan en so ook die lot van die Afrikaner en sy musiek. Name soos Hendrik Susan, Willie Welgens, Jo Wannenburg, Fanie Bosch, Rassie Erasmus, Nico Carstens en ‘n menigte ander Boeremusikante het nou opgeduik en platemaatskappye het oor hulle voete geval vir opnames. Toe raak dit stil vir ‘n redelike wyle, hier van die vroeë 1960’s af.

‘n Nuwe oplewing het eers in 1978 plaasgevind toe die program Konsertinaklub weer ingestel is by die SAUK. In 1980 begin die TV Boeremusiekkompetisie, in 1981 word die Konsertinaklub van SA gestig en in 1989 die Boeremusiekgilde.

Ai, hoe verlang mens terug na daardie goue era van die 80’s en 90’s met Boeremusiek wat op die SAUK TV uitgesaai was!! Vir elke Boeremusiek liefhebber was hierdie twee-jaarlikse TV Boereorkes Kompetisies ‘n absolute hoogtepunt gewees. Daar is elke week met groot verwagting uitgesien na die orkeste wat aan die uitdunne deelgeneem het, regdeur tot in die kwart, half en twee orkeste in die eindrondtes!!! Na elke uitsending was die orkeste se prestasie, hetsy baie goed of nie, ‘n druk besprekingspunt onder al wat ‘n Boeremusiek liefhebber gewees!! Natuurlik het elke Boeremusiek liefhebber sy gunsteling orkeste gehad!!! Dan is daai sus of die ander so orkeste wat dalk beter teen sy gunstelinge gespeel het, nou nie juis volgens hom of haar beter as die gunsteling gewees nie ens! Al die orkeste se speel en die musiek, hetsy goed of minder goed, was egter in goeie gees onder mekaar bespreek en mekaar se sienings aanvaar!! Punt is, almal het die musiek en orkeste terdee baie geniet!!!

Nog ‘n feit is, daar is in daardie era ontsettend baie goeie Boeremusiek gespeel deur verskeie top gehalte orkeste en musikante! Meer belangrik nog, was die feit dat ons liefhebbers in daardie tyd nog gereeld Boeremusiek oor Radio, TV, Allerhande Funksies, Partytjies ens, gehoor, gesien, gedans en belewe het!! Boeremusiek was toe net so deel van ons daaglikse bestaan gewees soos
“Pop” “Country” “Folk” “Jazz” “Swing” “Blues” “Big Bands” Klassieke musiek ens. Deesdae hoor mens maar baie min Boeremusiek op Radio maar feitlik niks op TV nie!! Boeremusiek kan slegs uitgebou word as mense, veral ons jong mense, gereeld daaraan blootgestel word deur dit te hoor en sien en ook belewe soos op radio, by feeste en danse ens!! Daar is wel ‘n paar streeks-en-internet radiodienste wat tog nog ‘n bietjie Boeremusiek programme uitsaai. RSG, PretoriaFM,LuisterFM,Bayfm,WorcesterFM,Grensloos i-Radio. En ook die gereelde feeste op veral Diamant 4 Landgoed en ook Koppisol, Leeupoort, Bloekompoort, PE, Cradock, Groot Brak, Pretoria ens. ens. Ons as Boeremusiek liefhebbers, is werklik baie dankbaar daarvoor!!

Met die eerste TV Boereorkes Kompetisie in 1980, wat deur Neels Mattheus se puik orkes gewen was, het Neels-hulle met nuwe verwerkings van bestaande komposisies, die grense van moderne boeremusiek heeltemal verskuif na soos ons dit vandag ken!! Die orkeslede saam met Neels-konsertina was; Gielie Badenhorst-orrel, Pieter Stef-Nel-ritme kitaar; Peet van Vuuren-bas; Jack Tim-klavier en Kevin Mattheus-tromme. Die 1980 naas-wenners was ook ’n puik orkes van Piet van Heerden,-op klavier; Pat Maloney-konsertina; Cassie Labushagne-trekklavier, Dawid Schlebush-Ritme kitaar; Paul Jacobs-tromme; JP Marais-bas. Al die orkeste wat aan die 1980 TV Boereorkes Kompetisie deelgeneem het, was top gekeurde orkeste met formidabele musikante in hul geledere gewees!! En die heerlike Boeremusiek met die interessante verwerkings, wat hulle tydens die kompetisie opgedis het, was van uitstaande gehalte Boeremusiek gewees!! Meer oor die daarop volgende jare se TV Boerorkes kompetisie volg later.

 

Skrywer: Hans Bothma

1 1.69 K

'n Kommentaar op “Wie onhou nog die TV Boereorkes Kompetisies van die 1980’s en 1990’s?

  1. Ferdi en Letitia van Zyl 3 years ago

    Sjoe dit vat my terug na my kinderjare. Almal het by die huis gebly om na die kompetisies te kyk. Dit is ook dan opgeneem om later weer en weer na gekyk te word en dan word daar ook menings gelig en gestry oor wie die beste nou eintlik was. Baie goeie tye